Category Archives: debt

Die wisselwerking tussen die Wet op Verbruikersbeskerming en die Nasionale Kredietwet, en die moontlikheid van boetes by die aflos van kredietooreenkomste

A1Mnr Swart koop ‘n BMW-motor in terme van ‘n huurkoop ooreenkoms en sy finansiering word deur BMW-finansiering gedoen.

Na ‘n paar maande erf mnr Swart ‘n groot som geld en hy besluit om die finansiering in terme van die kredietooreenkoms heeltemal af te los.

Mnr Swart is bekommerd dat die kredietverskaffer hom kan penaliseer met ‘n boete omdat hy die finansiering vroeër aflos. 

Die eerste stap in die beantwoording van die bogenoemde vraag sal wees om te bepaal watter wetgewing die situasie reguleer. Die wetgewing wat hier van toepassing is, is die Nasionale Kredietwet 34 van 2005  en die Wet op Verbruikersbeskerming 68 van 2008.

In hierdie aangeleentheid moet daar ‘n onderskeid getref word tussen die toepassingsgebied van elkeen van die bogenoemde wette, aangesien die een wet van toepassing sal wees op die kredietooreenkoms self, terwyl die ander wet van toepassing sal  wees op die goedere, met ander woorde die BMW-motor. Artikel 5 van die Wet op Verbruikersbeskerming sit uiteen wanneer die wet sal geld en wanneer nie. Artikel 5(2)(d) is van spesifieke belang vir mnr Swart, aangesien dit kredietooreenkomste wat ingevolge die Nasionale Kredietwet gereguleer word, uitsluit. Alhoewel artikel 5(2)(d) die ooreenkoms self uitsluit, word die goedere of dienste wat gelewer word ingevolge die kredietooreenkoms ingesluit. Hierdie kredietooreenkomste, soos beoog in die Nasionale Kredietwet, word gedefinieer in die wet self, en meer spesifiek artikel 8(4)(c) wat huurkoop ooreenkomste (paaiement ooreenkomste) insluit.

Mnr Swart se situasie val presies in artikel 5(2)(d) van die Wet op Verbruikersbeskerming. Die implikasie van hierdie artikel is dat alle kredietooreenkomste wat onderhewig is aan die Nasionale Kredietwet buite die bestek van die Wet op  Verbruikersbeskerming val, maar die goedere, en in dié geval die BMW-motor, en die kwaliteit van die goedere binne die bestek van die Wet op Verbruikersbeskerming val. Dit is hier waar die bogenoemde wette met mekaar oorvleuel. Die oorvleueling is eintlik daarin geleë dat beide wette op een ooreenkoms van toepassing kan wees. Die kredietooreenkoms moet voldoen aan die Nasionale Kredietwet, maar die goedere en dienste gelewer moet weer voldoen aan die Wet op Verbruikersbeskerming. As daar ‘n gebrek in die kwaliteit van die goedere of dienste is, sal die Wet op Verbruikersbeskerming die gepaste wetgewing wees, maar as dit gaan oor die kredietooreenkoms self, dan sal die Nasionale Kredietwet geld.

Artikel 2(9) van die Wet op Verbruikersbeskerming handel oor die interpretasie van die wet en meer spesifiek oor hoe die wet geïnterpreteer moet word in gevalle waar daar teenstrydighede ontstaan tussen die Wet op Verbruikersbeskerming en enige ander wet. Volgens die artikel moet die saamlees van verskillende wette so ver as moontlik geskied, maar as dit nie meer moontlik is nie, dan moet die wet geld wat die meeste beskerming aan die verbruiker verleen.

Die twee artikels in die Nasionale Kredietwet wat handel oor die vervroegde aflos van kredietooreenkomste is artikel 122 en 125. Volgens artikel 122 van die Nasionale Kredietwet mag ‘n verbruiker ‘n kredietooreenkoms op enige tydstip beëindig. Die verbruiker kan enige tyd sy kredietooreenkoms beëindig deur die vereffeningsbedrag ooreenkomstig artikel 125 te betaal.

Artikel 125 bepaal dat ‘n verbruiker geregtig is daarop om ‘n kredietooreenkoms te eniger tyd te vereffen, met of sonder voorafgaande kennis aan die kredietverskaffer. Die bedrag wat betaalbaar is om ‘n kredietooreenkoms te vereffen, is die somtotaal van die volgende bedrae:

  • Die uitstaande balans op die hoofskuld / kapitale bedrag.
  • Alle rentes en heffings tot en met vereffeningsdatum. Byvoorbeeld as die uitstaande bedrag na 3 maande afgelos word, sal slegs 3 maande se rente gevra word. Die rente sal bereken word op die kapitale bedrag wat geleen is. 

In die geval van ‘n groot ooreenkoms (R250 000.00 of meer) sal die aflosbedrag dieselfde bereken word soos hierbo, maar met addisionele rente, wat bekend staan as ‘n vervroegde-aflos-fooi. Dié fooi mag nie meer as ‘n bedrag gelykstaande aan drie maande se rente op die kapitale bedrag wees nie.

Gevolgtrekking

Dus, indien mnr Swart se BMW-motor se kapitale bedrag, en dus die kredietooreenkoms, meer werd is as R250 000.00 dan sal die kredietverskaffer geregtig wees om in terme van die Nasionale Kredietwet ‘n boete van nie meer as 3 maande se rente te hef nie by die vervroegde aflos van die kredietooreenkoms. Indien dit minder werd is as R250 000.00 sal hy nie geregtig wees om enige boetes te hef nie.

Hierdie is ‘n algemene inligtingstuk en moet gevolglik nie as regs- of ander professionele advies benut word nie. Geen aanspreeklikheid kan aanvaar word vir enige foute of weglatings of enige skade of verlies wat volg uit die gebruik van enige inligting hierin vervat nie. Kontak altyd u regsadviseur vir spesifieke en toegepaste advies.

Hoe om jou skuld te bestuur

A1Alecia het groot finansiële probleme gehad; sy het te veel skuld gehad en haar uitgawes het haar inkomste oorskry. Sy het besluit om ‘n nuwe bankrekening oop te maak waarin haar salaris betaal kon word, wat sou verseker dat sy haar salaris kan bestuur voor haar maandelikse debietorders afgaan.

Alecia het gedink dit sou ‘n goeie plan wees om eers die klein skuld af te betaal en dan te begin met die groter skuld. Ongelukkig het dit veroorsaak dat daar geen betalings gemaak is op haar huislening en kredietkaart nie en die bank het gedreig om haar op die swartlys te plaas en haar ‘n dagvaarding te stuur. Die bank het toe ‘n aansoek in die hof gebring vir ‘n bevel wat dit verpligtend maak vir haar om die verskuldigde bedrag te betaal; hierdie bevel word ‘n Besoldigingbeslagleggingsbevel genoem. So ‘n bevel word kragtens a. 65J van die Wet op Landdroshowe  Wet 32 ​​van 1944 toegestaan en beveel ‘n werkgewer (genoem die beslagskuldenaar) om aftrekkings van ‘n skuldenaar se salaris of lone te maak en hierdie bedrae aan die skuldeiser of sy/haar prokureurs oor te betaal. Hierdie bedrae was veel groter as wat Alecia kon bekostig en dit het haar gelaat met geen inkomste vir die res van haar maandelikse skuldverpligtinge nie. Dit het haar in ‘n erger finansiële posisie as voorheen geplaas.

As Alecia vroeër geweet het van skuldberading sou sy nie in die posisie wees waarin sy haar nou bevind het nie. Dit is belangrik om mense voor te lig oor skuldberading, veral in ‘n land waar skuld  so maklik gemaak kan word maar so moeilik is om terug te betaal. Skuldberading is ‘n proses om verbruikers wat skuldprobleme ervaar en sukkel om hul maandelikse verpligtinge na te kom, te help deur die verskaffing van begrotingsadvies, herstrukturering van betalings, onderhandeling namens hulle met kredietverskaffers, monitering van hul betalings, en die verskaffing van nasorgdiens.

Dit is die Skuldberader [wat by die die Nasionale Kredietreguleerder (NKR)  geregistreer is] se taak om te bepaal of die verbruiker se skuldlas te groot is deur inkomste en uitgawes te weeg en dan statutêre en nie-statutêre aftrekkings asook bestaande maandelikse skuldbetalings in berekening te bring. Indien die berekening ‘n negatiewe balans toon word die verbruiker oorverskuldig verklaar. Die skuldberader maak ‘n voorstel wat die skuldbetalings verlaag en die betalingkaskades  (die getal maande waarbinne die die skuld, insluitend rente, afbetaal moet word) verhoog, om die verbruiker in staat te stel om sy/haar skuld te bestuur en tegelykertyd af te betaal. ‘n Bevel word dan deur die hof toegestaan ​​en aan die kredietverskaffers gestuur en die verbruiker kan dan nie meer enige nuwe skuld aangaan nie. Sodra die skuld afbetaal is word die verbruiker van ‘n klaringsertifikaat voorsien en kan die persoon sy/haar ekstra inkomste gebruik om goedere met kontant te koop.

Ongelukkig was dit te laat vir Alecia aangesien regstappe reeds teen haar geneem was. Dieselfde geld indien ‘n beëindigingbrief gestuur word kragtens a.129 van die Nasionale Kredietwet. Dit is belangrik vir mense om te weet dat daar ‘n manier is om hul skuld te bestuur, maar hulle moet erken dat hulle in finansiële moeilikheid is voordat hulle in ‘n situasie soos Alecia geplaas word. Dit kan dalk te laat vir Alecia wees, maar hopelik sal dit nie te laat wees vir ander nie.

Hierdie is ‘n algemene inligtingstuk en moet gevolglik nie as regs- of ander professionele advies benut word nie. Geen aanspreeklikheid kan aanvaar word vir enige foute of weglatings of enige skade of verlies wat volg uit die gebruik van enige inligting hierin vervat nie. Kontak altyd u regsadviseur vir spesifieke en toegepaste advies.