Category Archives: Consumer

Het ek ‘n dranklisensie nodig indien ek ‘n funksie of fondsinsameling hou?

A3Die vraag of ‘n persoon ‘n dranklisensie benodig wanneer daar ‘n funksie of fondsinsameling gereël word, is ‘n baie algemene een. Die Wes-Kaapse Drankwet, Wet 4 van 2008 (hierna “die Wet”) bepaal dat ‘n persoon slegs drank mag verkoop of mikro-vervaardig in die provinsie van die Wes-Kaap, indien daardie persoon in besit is van ‘n geldige dranklisensie wat uitgereik is deur die Wes-Kaapse Drankowerheid (hierna “die Drankraad”).

Die klem word geplaas op die verkoop of mikro-vervaardiging van drank, wat beteken dat ‘n persoon wat ‘n funksie of geleentheid hou waar die drank gratis verskaf word aan die gaste nie ‘n dranklisensie benodig nie. Dit is problematies vir persone of besighede wat ‘n funksie of fondsinsameling wil reël en drank tydens die geleentheid wil verkoop.

Die Wet maak dit in sekere gevalle moontlik om vir ‘n spesiale geleentheids-lisensie aansoek te doen wat jou magtig om drank te verkoop vir gebruik op of weg van die perseel tydens die spesiale geleentheid. Op hierdie stadium kan jy slegs ‘n spesiale geleentheidslisensie kry vir die gebruik van drank op die perseel of weg van die perseel, maar nie vir albei gelyktydig nie.

Die voorsittende beampte van die Drankraad kan egter slegs indien enige van die volgende aansoekers aansoek doen, ‘n spesiale geleentheidslisensie toestaan, nl. (a) ‘n Opvoedkundige instelling anders as ‘n skool, (b) ‘n Welsyns- of kultuurorganisasie, (c) Die organiseerder van ‘n uitstalling, (d) Die sekretaris, bestuurder of hoof opsiener van ‘n bona fide wedren of sportbyeenkoms of soortgelyke geleentheid, (e) Die organiseerder van ‘n kunsvertoning.

Aansoek vir ‘n spesiale geleentheidslisensie word gedoen deur Vorm 13, soos voorgeskryf in Aanhangsel 3 van die Wet, te voltooi en onder andere die volgende daarby aan te heg:

  • ‘n Plan van die voorgestelde perseel;
  • ‘n Terreinplan;
  • ‘n Volledige beskrywing van die perseel;
  • Skriftelike vertoë ter ondersteuning van die aansoek; en
  • ‘n Bewys dat die aansoeker die reg het om die perseel te okkupeer. 

Hierdie aansoek moet 14 dae voor die spesiale geleentheid ingedien word. Die oorspronklike aansoek word by die Drankraad ingedien, terwyl twee afskrifte by die aangewese drankoffisier ingedien word.

Daar is ‘n Konsepwysigingswetsontwerp op die Wet wat tans die rondte doen. Die voorgestelde wysigings wat betrekking het op spesiale geleentheidslisensies is dat die aansoek 21 dae voor die geleentheid ingedien moet word en nie meer slegs 14 dae voor die tyd nie, en dat daar aansoek gedoen kan word vir die verkoop van drank vir die gebruik op en weg van die perseel tydens dieselfde funksie of fondsinsameling.

Die fooie wat betaalbaar is aan die Drankraad om aansoek te doen vir die verskeie tipes lisensies word voorgeskryf deur Aanhangsel 1 van die Wet en is tans R250-00 vir ‘n aansoek vir ‘n spesiale geleentheidslisensie. Sodra die aansoek toegestaan word, is ‘n fooi van R150-00 per dag van die spesiale geleentheid betaalbaar. Hierdie fooi word voorgeskryf deur Aanhangsel 2 van die Wet.

Indien u bystand verlang in die verband, kan u John Erasmus by john@conradieinc.co.za  kontak of gedurende kantoorure by 023 347 0996 skakel.

Hierdie is ‘n algemene inligtingstuk en moet gevolglik nie as regs- of ander professionele advies benut word nie. Geen aanspreeklikheid kan aanvaar word vir enige foute of weglatings of enige skade of verlies wat volg uit die gebruik van enige inligting hierin vervat nie. Kontak altyd u regsadviseur vir spesifieke en toegepaste advies.

Die wisselwerking tussen die Wet op Verbruikersbeskerming en die Nasionale Kredietwet, en die moontlikheid van boetes by die aflos van kredietooreenkomste

A1Mnr Swart koop ‘n BMW-motor in terme van ‘n huurkoop ooreenkoms en sy finansiering word deur BMW-finansiering gedoen.

Na ‘n paar maande erf mnr Swart ‘n groot som geld en hy besluit om die finansiering in terme van die kredietooreenkoms heeltemal af te los.

Mnr Swart is bekommerd dat die kredietverskaffer hom kan penaliseer met ‘n boete omdat hy die finansiering vroeër aflos. 

Die eerste stap in die beantwoording van die bogenoemde vraag sal wees om te bepaal watter wetgewing die situasie reguleer. Die wetgewing wat hier van toepassing is, is die Nasionale Kredietwet 34 van 2005  en die Wet op Verbruikersbeskerming 68 van 2008.

In hierdie aangeleentheid moet daar ‘n onderskeid getref word tussen die toepassingsgebied van elkeen van die bogenoemde wette, aangesien die een wet van toepassing sal wees op die kredietooreenkoms self, terwyl die ander wet van toepassing sal  wees op die goedere, met ander woorde die BMW-motor. Artikel 5 van die Wet op Verbruikersbeskerming sit uiteen wanneer die wet sal geld en wanneer nie. Artikel 5(2)(d) is van spesifieke belang vir mnr Swart, aangesien dit kredietooreenkomste wat ingevolge die Nasionale Kredietwet gereguleer word, uitsluit. Alhoewel artikel 5(2)(d) die ooreenkoms self uitsluit, word die goedere of dienste wat gelewer word ingevolge die kredietooreenkoms ingesluit. Hierdie kredietooreenkomste, soos beoog in die Nasionale Kredietwet, word gedefinieer in die wet self, en meer spesifiek artikel 8(4)(c) wat huurkoop ooreenkomste (paaiement ooreenkomste) insluit.

Mnr Swart se situasie val presies in artikel 5(2)(d) van die Wet op Verbruikersbeskerming. Die implikasie van hierdie artikel is dat alle kredietooreenkomste wat onderhewig is aan die Nasionale Kredietwet buite die bestek van die Wet op  Verbruikersbeskerming val, maar die goedere, en in dié geval die BMW-motor, en die kwaliteit van die goedere binne die bestek van die Wet op Verbruikersbeskerming val. Dit is hier waar die bogenoemde wette met mekaar oorvleuel. Die oorvleueling is eintlik daarin geleë dat beide wette op een ooreenkoms van toepassing kan wees. Die kredietooreenkoms moet voldoen aan die Nasionale Kredietwet, maar die goedere en dienste gelewer moet weer voldoen aan die Wet op Verbruikersbeskerming. As daar ‘n gebrek in die kwaliteit van die goedere of dienste is, sal die Wet op Verbruikersbeskerming die gepaste wetgewing wees, maar as dit gaan oor die kredietooreenkoms self, dan sal die Nasionale Kredietwet geld.

Artikel 2(9) van die Wet op Verbruikersbeskerming handel oor die interpretasie van die wet en meer spesifiek oor hoe die wet geïnterpreteer moet word in gevalle waar daar teenstrydighede ontstaan tussen die Wet op Verbruikersbeskerming en enige ander wet. Volgens die artikel moet die saamlees van verskillende wette so ver as moontlik geskied, maar as dit nie meer moontlik is nie, dan moet die wet geld wat die meeste beskerming aan die verbruiker verleen.

Die twee artikels in die Nasionale Kredietwet wat handel oor die vervroegde aflos van kredietooreenkomste is artikel 122 en 125. Volgens artikel 122 van die Nasionale Kredietwet mag ‘n verbruiker ‘n kredietooreenkoms op enige tydstip beëindig. Die verbruiker kan enige tyd sy kredietooreenkoms beëindig deur die vereffeningsbedrag ooreenkomstig artikel 125 te betaal.

Artikel 125 bepaal dat ‘n verbruiker geregtig is daarop om ‘n kredietooreenkoms te eniger tyd te vereffen, met of sonder voorafgaande kennis aan die kredietverskaffer. Die bedrag wat betaalbaar is om ‘n kredietooreenkoms te vereffen, is die somtotaal van die volgende bedrae:

  • Die uitstaande balans op die hoofskuld / kapitale bedrag.
  • Alle rentes en heffings tot en met vereffeningsdatum. Byvoorbeeld as die uitstaande bedrag na 3 maande afgelos word, sal slegs 3 maande se rente gevra word. Die rente sal bereken word op die kapitale bedrag wat geleen is. 

In die geval van ‘n groot ooreenkoms (R250 000.00 of meer) sal die aflosbedrag dieselfde bereken word soos hierbo, maar met addisionele rente, wat bekend staan as ‘n vervroegde-aflos-fooi. Dié fooi mag nie meer as ‘n bedrag gelykstaande aan drie maande se rente op die kapitale bedrag wees nie.

Gevolgtrekking

Dus, indien mnr Swart se BMW-motor se kapitale bedrag, en dus die kredietooreenkoms, meer werd is as R250 000.00 dan sal die kredietverskaffer geregtig wees om in terme van die Nasionale Kredietwet ‘n boete van nie meer as 3 maande se rente te hef nie by die vervroegde aflos van die kredietooreenkoms. Indien dit minder werd is as R250 000.00 sal hy nie geregtig wees om enige boetes te hef nie.

Hierdie is ‘n algemene inligtingstuk en moet gevolglik nie as regs- of ander professionele advies benut word nie. Geen aanspreeklikheid kan aanvaar word vir enige foute of weglatings of enige skade of verlies wat volg uit die gebruik van enige inligting hierin vervat nie. Kontak altyd u regsadviseur vir spesifieke en toegepaste advies.