Monthly Archives: April 2014

Personeelnuus: Welkom terug!

A4Ons wil graag vir Sarita Bester terug verwelkom op kantoor na vier maande se kraamverlof.

Sarita en haar man, Herman Bester, het op 21 November 2013 die ouers geword van ‘n pragtige baba seuntjie, genaamd Marnus Bester.

Sarita het op 3 Desember 2007 as ‘n kandidaat-prokureur by Conradie Ingelyf begin werk.  Sy het haar klerkskap voltooi en is toegelaat as ‘n prokureur op 16 April 2010.  Sy het ook haar eksamen in Transportbesorging afgelê en is as ‘n Transportbesorger toegelaat op 1 Maart 2013.

Sarita werk slegs tot 13h00 en konsentreer hoofsaaklik op die volgende velde van die reg:  Eiendomsreg, Transportbesorging en Kommersiëlereg.

Moet ek ‘n testament hê?

A2‘n Ma se begeerte dat haar dogter haar verloofring erf, sal dalk nie bewaarheid word indien sy nie ‘n geldige, skriftelike testament nalaat nie, aangesien haar boedel dan in terme van die Wet op Intestate Erfopvolging No 81 van 1987 verdeel sal word.

‘n Testament sal jou die gemoedsrus gee dat jou bates sover moontlik volgens jou wense verdeel word en moet weerspieël presies hoe jou bates na jou dood hanteer moet word. Dit mag egter nie contra bonos mores (teen die goeie sedes) wees of neerkom op “regerend uit die graf” nie.

Daar is ‘n aantal wetlike vereistes waaraan ‘n geldige testament moet voldoen. Indien die testament nie aan al hierdie vereistes voldoen nie, kan daar bevind word dat dit ongeldig is en sal jou boedel dan in terme van die Wet op Intestate Erfopvolging van 1987 beredder word. Dit is daarom van die uiterste belang dat iemand met die nodige gespesialiseerde vaardighede en kennis jou bystaan met die opstel van jou testament.

‘n Testament moet ook gereeld hersien en opgedateer word om aan te pas by jou veranderende lewensomstandighede, byvoorbeeld nadat jy in die huwelik getree het of kinders gebore is.  Artikel 2B van die Wet op Testamente no 7 van 1953 (soos gewysig deur die Erfreg Wet 43 van 1992) handel spesifiek oor ‘n verandering in huwelikstatus deur middel van ‘n egskeiding en lui soos volg: 

Indien iemand te sterwe kom binne drie maande nadat sy huwelik deur ‘n egskeiding of nietigverklaring deur ‘n bevoegde hof ontbind is en daardie persoon voor die datum van sodanige ontbinding ‘n testament verly het, word uitvoering aan daardie Testament gegee op dieselfde wyse waarop daaraan uitvoering gegee sou word indien sy voormalige gade voor die datum van die betrokke ontbinding oorlede is, tensy uit die Testament blyk dat die erflater ondanks die ontbinding van sy huwelik bedoel het om sy voormalige gade te bevoordeel.”

Hierdie klousule kan deur middel van die volgende voorbeeld verduidelik word: A en B se huwelik ontbind deur ‘n egskeiding en B sterf binne drie maande vanaf die datum van die egskeiding. B se testament is voor die egskeiding opgestel. Tensy B se testament spesifiek aandui dat A bevoordeel moet word uit hoofde van B se boedel ten spyte van die egskeiding, sal B se boedel verdeel word asof A gesterf het voordat hulle geskei het. A sal dus nie van B se boedel erf nie. Sou B egter sterf nadat meer as drie maande verloop het na die egskeiding en B se testament, wat A bevoordeel, is onveranderd, sal dit gesien word asof dit B se bedoeling was om vir A te bevoordeel, ten spyte van die egskeiding.

‘n Persoon wat hertrou, moet verseker dat die nodige veranderinge aan sy/haar testament aangebring word, andersins kan dit ernstige gevolge vir die “nuwe” gade inhou, veral in gevalle waar die testament steeds die eggenoot uit die vorige huwelik bevoordeel.

Wanneer daar minderjarige kinders ter sprake is, is dit raadsaam om voldoende voorsiening in jou testament te maak vir hul lewenskoste en opvoeding. Dit kan gedoen word deur ‘n testamentêre trust te skep waarvan die minderjarige kinders begunstigdes is.

Om oor ‘n mens se afsterwe te dink en praat, is nie maklik nie. Deur egter ‘n geldige, duidelike en ondubbelsinnige testament na te laat, kan onaangename familievetes verhoed word. Dit is beslis die tyd en moeite werd om ‘n geldige testament op te stel.

Verwysings:

Drafting of Wills 2013 – LEAD

Wet op Intestate Erfopvolging 81/1987

Wet op Testamente 7/1953

Saamgestel deur Riëtte Nel

Hierdie is ‘n algemene inligtingstuk en moet gevolglik nie as regs- of ander professionele advies benut word nie. Geen aanspreeklikheid kan aanvaar word vir enige foute of weglatings of enige skade of verlies wat volg uit die gebruik van enige inligting hierin vervat nie. Kontak altyd u regsadviseur vir spesifieke en toegepaste advies.

Sekere riglyne vir boedelbeplanning

A3Die hoofdoel met boedelbeplanning is om toe te sien dat soveel as moontlik van jou geakkumuleerde rykdom vir jou eie voordeel aangewend word en vir die maksimum voordeel van jou afhanklikes by jou dood.

“Boedelbeplanning” word gedefinieer as die proses waarin ‘n program geskep en bestuur word om:

  1. Jou bates tydens jou leeftyd in stand te hou, te vermeerder en te beskerm;
  2. Die mees effektiewe en voordelige verdeling daarvan aan opvolgende generasies te verseker. 

Daar bestaan ‘n algemene wanindruk dat boedelbeplanning net gaan oor die maak van ‘n testament of om jou sake so te reël dat boedelbelasting bespaar word.

Elke persoon se boedel is uniek en dus behoort die struktuur volgens haar/sy eie unieke behoeftes en doelwitte opgestel te word.

Die tekort aan likiditeit by afsterwe kan uiteraard baie druk plaas op die oorblywende familie van ‘n oorledene, omdat die tekort aan kontant kan veroorsaak dat die eksekuteur bates sal moet verkoop om kontant te genereer.

Likiditeit beteken daar moet genoeg kontant beskikbaar wees om:

  1. Boedelbelasting te betaal;
  2. Boedeluitgawes en administrasiekoste te betaal;
  3. Voorsiening te maak vir belastingverpligtinge wat met dood mag ontstaan, soos kapitaal- winsbelasting. 

Tegnies word die boedel gevries totdat die Meester van die Hooggeregshof Eksekuteursbriewe uitgereik het.

Afsterwe sonder ‘n geldige testament, beteken dat jou boedel as intestaat hanteer sal word, en die wetgewing oor intestate erfopvolging sal geld. Die wet op Intestate erfopvolging bepaal dat die langslewende eggenoot die grootste gedeelte van R125 000 of ‘n kindsdeel erf. ‘n Kindsdeel word bepaal deur die totale waarde van die boedel deur die hoeveelheid kinders en die oorlewende eggenoot te deel. Waar partye binne gemeenskap van goedere getroud is, gaan een helfte van die boedel na die langslewende eggenoot as gevolg van die huwelik, en die ander helfte vererf volgens die intestate erfopvolging. Indien daar geen oorlewende eggenoot of afhanklikes is nie, word die boedel verdeel tussen die ouers en kinders. Waar daar geen ouers of kinders is nie word dit verdeel tussen die naaste bloedverwante.

‘n Eksekuteur is geregtig op die volgende vergoeding:

  1. ‘n Ooreengekome vergoeding in die Testament; of
  2. 3.5% van die bruto bate waarde; of
  3. 6% op die inkomste wat na dood die boedel toeval. 

Eksekuteursvergoeding is onderhewig aan BTW waar die eksekuteur so geregistreer is.

Indien die waarde van die boedel meer as R3.5 miljoen rand beloop, is boedelbelasting  betaalbaar op die balans meer as die R3.5 miljoen, met die uitsondering van eiendom wat aan ‘n langslewende eggenoot bemaak is, aangesien dit vrygestel is van boedelbelasting en/of kapitaalwinsbelasting.

Artikel 3 van die Wet op die Onderverdeling van Landbougrond verhoed die onderverdeling van landbougrond en die registrasie van onverdeelde aandele in meer as een persoon se naam, en dit is onderhewig aan die Minister se goedkeuring.

‘n Minderjarige is ‘n kind jonger as 18 jaar, en enige bemakings aan so ‘n persoon word in die Voogdyfonds gehou, wat onder die administrasie van die Meester van die Hooggeregshof val. Hierdie fondse is nie vrylik beskikbaar nie en word gewoonlik belê teen onder markverwante rentekoerse. Dit is dus aan te bevele dat voorsiening vir minderjarige kinders gemaak moet word deur ‘n trust.

Die Wet op Beslote Korporasies bepaal dat, onderhewig aan ‘n samewerkingsooreenkoms, waar ‘n erfgenaam ‘n ledebelang moet erf (in terme van ‘n testament), die toestemming van die oorblywende lede (indien enige) verkry moet word. Indien toestemming nie gegee word binne 28 dae nadat dit deur die eksekuteur versoek is nie, is die eksekuteur verplig om die ledebelang te verkoop.

Artikel 3(3)(d) van die Boedelbelastingwet bepaal dat waar bates aan ‘n trust oorgedra word gedurende die boedelbeplanner se leeftyd, maar hy/sy as trustee die mag behou wat hom/haar sou toelaat om eensydiglik van trustbates ontslae te raak vir sy eie of sy begunstigdes se voordeel, dan mag dit wees dat sulke bates beskou kan word as sy/haar eie en deel sal vorm van sy/haar boedel vir doeleindes van boedelbelasting.

Waar partye binne gemeenskap van goedere getroud is, het die oorlewende eggenoot ‘n eis vir 50% van die gekombineerde boedel, wat die werklike waarde van die boedel met 50% verminder. Die boedel word verdeel nadat al die skuld in die oorlye boedel betaal is (uitgesluit begrafniskoste en boedelbelasting, omdat hierdie verpligtinge van die bestorwe boedel is en nie die gesamentlike boedel nie). Slegs die helfte van die bates in so ‘n boedel kan dus bemaak word.

Die opbrengs van lewensversekeringspolisse kan gebruik word om:

  1. Inkomste te genereer om na afhanklikes om te sien terwyl met die boedel gehandel word;
  2. Boedeluitgawes te betaal, vir begrafniskoste, inkomstebelasting, boedel-administrasie en boedelbelasting. 

Die opbrengs van alle Suid Afrikaanse “huishoudelike” polisse uitgeneem op die beplanner se lewe, en waar daar geen begunstigde genomineer is nie, sal binne die bestorwe boedel val.

Waar ‘n begunstigde wel genomineer is op die polis, sal die opbrengs as bates in die boedel geag word vir boedelbelasting doeleindes, afgesien daarvan dat die opbrengs direk betaal word aan die begunstigde (onderhewig aan die gedeeltelike uitsluitings gebaseer op die polis- premies).

Polisse wat uitgesluit is van insluiting vir doeleindes van boedelbelasting,  is koop en verkoop, sleutelman polisse, en daardie polisse gesedeer aan ‘n eggenoot of kind in terme van ‘n huwelikskontrak.

Sekere bates in ‘n bestorwe boedel is uitgesluit van kapitaalwinsbelasting:

  1. Bates vir persoonlike gebruik (met sekere uitsonderings);
  2. Bates bemaak aan die langslewende eggenoot;
  3. Bates bemaak aan ‘n openbare voordeelorganisasie;
  4. Die opbrengs van lewensversekeringspolisse, belange in voorsorg- of annuïteitfondse, belange in pensioenfondse;
  5. Die eerste R2 miljoen ten opsigte van die primêre woning;
  6. Die eerste R750 000 ten opsigte van klein sakebates;
  7. Geldeenhede, uitgesluit goud en platinummunte. 

Hierdie is ‘n algemene inligtingstuk en moet gevolglik nie as regs- of ander professionele advies benut word nie. Geen aanspreeklikheid kan aanvaar word vir enige foute of weglatings of enige skade of verlies wat volg uit die gebruik van enige inligting hierin vervat nie. Kontak altyd u regsadviseur vir spesifieke en toegepaste advies.

Wat is ‘n derdeparty eis & wie kan een instel?

A11.  Die Padongelukkefonds is ‘n regeringsliggaam wat onder meer befonds word deur ons wanneer ons brandstof ingooi.  Die Padongelukkefonds is in die lewe geroep om mense wat in motorvoertuigongelukke betrokke is, te vergoed vir hulle beserings.

2.  Wanneer het iemand ‘n Derdeparty Eis?

Wanneer u of u kind betrokke was in ‘n motorvoertuigongeluk en beserings opgedoen het, mag ‘n eis ingestel word teen die Padongelukkefonds.  Voetgangers, fietsryers of passasiers word ingesluit by hierdie kategorie.

3.  Wat kan mens alles van die Padongelukkfonds eis?

  • Gelede mediese koste;
  • Toekomstige mediese koste;
  • Verlies aan inkomste;
  • Toekomstige verlies aan inkomste;
  • In geval van die dood van ‘n broodwinner, gelede en toekomstige verlies aan onderhoud;
  • Begrafniskoste en
  • Pyn, Lyding, Verlies aan Lewensgenietinge, slegs in geval van baie ernstige beserings.

4.  Wat  is “ernstige beserings”?

Ná 1 Augustus 2008 kan mens slegs eis om algemene skade teen die Padongelukkefonds, mits die beserings só ernstig was, dat die hele liggaam permanent met 30 persent óf ingekort is óf, in die alternatief, dat die beserings wat u opgedoen het u verhoed om u lewe te lei soos u voorheen kon gedoen het, of om u werk te doen soos wat u voorheen kon gedoen het of indien u met aaklige opsigtelike letsels gelaat word.

5.  Wanneer het iemand nié ‘n Derdeparty Eis nie?

Wanneer daardie persoon die bestuurder was van die voertuig wat die ongeluk veroorsaak het.

6.  Ek is onseker oor beserings wat opgedoen is in ‘n motorvoertuigongeluk:  Wat kan ek doen?

Gaan sien ‘n prokureur wat spesialiseer in Derdeparty Eise en sy of hy sal u kan adviseer oor of u beserings ernstig genoeg is om te kwalifiseer vir algemene skadevergoeding vanaf die Padongelukkefonds, óf of u dalk vir ‘n ánder eis sal kwalifiseer, byvoorbeeld Verlies aan Verdienste of Gelede Mediese Koste.

By Conradie Ingelyf hanteer Tana du Toit die Derdeparty Eise en sal u van raad kan voorsien met betrekking tot ‘n moontlike Derdeparty Eis.  Hierdie konsultasie is gratis.

Hierdie is ‘n algemene inligtingstuk en moet gevolglik nie as regs- of ander professionele advies benut word nie. Geen aanspreeklikheid kan aanvaar word vir enige foute of weglatings of enige skade of verlies wat volg uit die gebruik van enige inligting hierin vervat nie. Kontak altyd u regsadviseur vir spesifieke en toegepaste advies.