Tag Archives: GELDIG

Is ‘n handelsbeperkingsklousule altyd geldig en afdwingbaar?

A2In die verlede was handelsbeperkingsooreenkomste ongeldig en onafdwingbaar, tensy die werkgewer kon bewys dat die ooreenkoms billik is. Gelukkig vir werkgewers het hierdie situasie verander.

Wat is ‘n handelsbeperking?

‘n Ooreenkoms wat ‘n party se reg om te handel of ‘n besigheid of beroep te bedryf, beperk op sodanige manier of met sodanige partye as wat hy/sy goeddink, is ‘n handelsbeperking.

‘n Werkgewer sal tipies in die dienskontrak of ‘n aparte ooreenkoms ‘n handelsbeperkingsklousule insluit wat gewoonlik van krag word wanneer die kontrak getermineer of die besigheid of praktyk verkoop word.

Hoekom is hierdie tipe klousule omstrede?

Dit is omstrede omdat daar ‘n botsing van fundamentele waardes is: aan die een kant is daar ‘n algemene kontrakteursvryheid wat daarop staatmaak dat partye by hul kontrakte gehou moet word, en aan die ander kant is daar handelsvryheid wat ‘n erkende reg volgens die grondwet is.

Soos ander ooreenkomste is handelsbeperkings prima facie geldig en afdwingbaar. Voorheen het die werkgewer die bewyslas gehad om te bewys dat die implementering van die handelsbeperkingsklousule billik en in openbare belang is. Die situasie is nou omgekeerd en die werknemer het nou die bewyslas om te bewys dat afdwinging van die beperking teen openbare belang sal indruis.

‘n Onredelike beperking sal teen die openbare belang wees en dus onafdwingbaar. Die redelikheid van ‘n handelsbeperkingsklousule word beoordeel op die basis van breë belange van die gemeenskap en die belange van die individu self.

Redelikheid inter partes hang van verskeie faktore af:

  • Het die werkgewer ‘n beskermingswaardige belang?
  • Geografiese omvang en tydperk van die handelsbeperking (moontlikheid van gedeeltelike afdwinging)
  • Toegewing deur die werknemer in die kontrak dat die beperking redelik is, en ongelyke bedingingsvermoë van die verskillende partye (hierdie faktore dra min gewig)

Voorbeelde van beskermingswaardige belange is vertroulike inligting, handelsgeheime, kliëntverhoudings en -lyste, en die welwillendheid van die besigheid. Dit sluit egter nie planne om die kompetisie te elimineer en die belegging van tyd en kapitaal in die opleiding van die werknemer in nie.

Dit is nie genoeg dat vertroulike inligting net as sulks beskou word nie. Vir inligting om as vertroulik beskou te word, moet dit kommersieel nuttig wees, met ander woorde dit moet toegepas kan word in die industrie, ekonomiese waarde hê vir die persoon wat dit wil beskerm, en slegs bekend wees aan ‘n beperkte aantal persone.

Die bewys van handelsverbintenisse sal slegs relevant wees indien die werknemer toegang het tot die werkgewer se kliënte en sodanige verhouding met die werkgewer se kliënte het dat dit hom/haar in staat sou stel om so ‘n invloed oor hulle te hê dat die kliënte hom/haar sal volg indien hy/sy die diens van die werkgewer verlaat. Die volgende faktore is hier van belang:

  • die pligte van die werknemer;
  • die persoonlikheid van die werknemer;
  • die frekwensie en tydsduur van die werknemer se kontak met die kliënte;
  • sy/haar invloed or die kliënte;
  • aard van sy/haar verhouding met die klënte (mate van aanhang, omvang van hul vertroue in hom/haar);
  • vlak van kompetisie tussen die mededingende besighede;
  • die tipe produk wat verkoop word; en
  • bewyse dat kliënte verloor is as gevolg van die werknemer se vertrek.

Met verwysing tot die bogenoemde moet die volgende vrae gevra word:

a) Is daar ‘n belang van party A wat waardig is om beskerm te word?

b) Word daardie belang benadeel deur party B?

c) Indien wel, weeg die belang van party A kwalitatief en kwantitatief meer teenoor die belang van party B, wat sal inhou dat daardie party ekonomies onaktief en onproduktief sal wees?

d) Is daar enige openbare beleid wat vereis dat die handelsbeperking gehandhaaf of van die hand gewys word?

Al is die handelingsbeperkingsooreenkoms billik inter partes, mag dit nog steeds beslis word dat dit nie in openbare belang afgedwing moet word nie.

Bronnelys:

Basson v Chilwan & Others 1993 (3) SA 742 (A)

Sunshine Records (Pty) Ltd v Flohing & Others 1990 (4) SA 782 (A)

Magna Alloys & Research (SA) (Pty) Ltd v Ellis 1984 (4) SA 874 (A)

Hierdie is ‘n algemene inligtingstuk en moet gevolglik nie as regs- of ander professionele advies benut word nie. Geen aanspreeklikheid kan aanvaar word vir enige foute of weglatings of enige skade of verlies wat volg uit die gebruik van enige inligting hierin vervat nie. Kontak altyd u regsadviseur vir spesifieke en toegepaste advies.